Gaan enige openbare fasiliteite oop wees tydens Waarskuwingsvlak 4?

Die volgende openbare plekke en persele sal gedurende die Waarskuwingsvlak 4 gesluit wees:

  • Waar godsdienstige, kulturele, sport-, vermaak-, ontspannings-, uitstallings-, organisatoriese of soortgelyke aktiwiteite plaasvind
  • Waar ander goedere as noodsaaklike goed aangeskaf, aangekoop, verkoop word of verkoop
  • Openbare parke, sportterreine en velde, strande of swembaddens
  • Vlooimarkte
  • Fêtes en basaars
  • Nagklubs
  • Casinos
  • Hotelle, lodges, bed en ontbyt, 'airbnbs', tyddeelgeriewe en oorde en gastehuise, behalwe as dit gebruik word vir buitelandse toeriste wat beperk is tot hotelle, lodges en gastehuise
  • Privaat en openbare wildreservate, behalwe as dit gebruik word vir buitelandse toeriste wat beperk is tot privaat en openbare wildreservate
  • Tavernes en sjebiens, of soortgelyke inrigtings
  • Teaters
  • Museums

Gaan kwesbare leerders gedurende die inperkingstydperk skoolmaaltye ontvang?

Kinders wat gewoonlik gedurende die kwartaal as deel van die skoolvoedingsprogram by die skool kos kry, sal maaltye ontvang in die weke wat op 6 en 13 April begin. Die onderwysdistrikte sal met die betrokke skole saamwerk om die beste moontlike manier te vind om hierdie humanitêre plan vir hul leerders in die skoolvoedingsprogram te implementeer, gebaseer op die unieke omstandighede van die skool en sy leerders. Skole sal die plan aan die leerders se ouers kommunikeer.

Dit gaan nie op dieselfde wyse werk wanneer kinders by die skool eet nie, aangesien hulle wegneemetes gaan kry, en die kinders gaan gevra word om hul eie kosblikke te bring, en maatreëls gaan getref word om sosiale afstand te handhaaf. Die SAPD is gekontak om te help met patrollering rondom skole gedurende die tye wanneer maaltye uitgedeel word.

 

Gaan die Departement van Landbou se Kantoor vir Veeartsenykundige Uitvoersertifikasie steeds oop wees tydens die staat van inperking?

Tydens die staat van inperking bly die Wes-Kaapse Departement van Landbou se Kantoor vir Veeartsenykundige Uitvoersertifikasie oop gedurende kantoorure.

Twee veeartse en vier inspekteurs bly aan diens om te verseker dat die inspeksie van die uitvoerbesending en die uitreiking van gesondheidsertifikate voortgaan en ons diens aan die uitvoermark nie ontwrig word nie.

Amptenare aanvaar nie uitnodigings na fisiese vergaderings nie, maar kliënte word versoek om elektronies navrae te doen en aansoeke per e-pos aan vetexport@elsenburg.com te rig.

Alhoewel bykomende higiëne-maatreëls by die Milnerton-kantoor in werking gestel is, is nog drie veeartse en een hoof-openbare veeartsbeampte op noodbystandsdiens geplaas indien die Milnerton-kantoor onder kwarantyn geplaas en 'n alternatiewe kantoor gebruik moet word.

Na-uurse dienste vir inspeksies en die hantering van noodgevalle sal steeds gelewer word.

Gaan Erfenis Wes-Kaap aansoeke aanvaar?

Die Erfenis Wes-Kaap kantoor gaan gesluit wees en aansoekers kan hul aansoeke per e-pos stuur na ceo@heritagewesterncape.gov.za

Hoe kan ek nou dat die leeskamer vir die publiek gesluit is toegang tot die Provinsiale Argief bekom?

Die personeel van die Provinsiale Argief gaan voort om e-posnavrae van navorsers te beantwoord. Die e-posadres is: archives@westerncape.gov.za

Gaan die Poskantoor oop wees tydens die staat van inperking?

Posdienste en koerierdienste is slegs beskikbaar vir die vervoer van mediese produkte.

Gaan die Algemene Jaarvergaderings van die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) steeds tydens die inperkingsperiode plaasvind?

Die Algemene Jaarvergaderings van die Gemeenskapspolisiëringsforum gaan nie tydens die inperkingsperiode plaasvind nie.

Gaan die Godsdiensprojek vir Jeugveiligheid (YSRP) tydens die inperkingsperiode voortgesit word?

Die Godsdiensprojek vir Jeugveiligheid (YSRP) gaan nie tydens die inperkingsperiode voortgesit word nie.

Kan ek vir ’n dranklisensie aansoek doen tydens die inperkingsperiode?

Geen drank mag tydens die inperkingsperiode deur vir-verbruik-op-die-perseel of vir-verbruik-van-die-perseel-af persele verkoop word nie. Restaurante gaan ook tydens die inperkingsperiode gesluit wees.

Skakel asseblief die Wes-Kaapse Drankowerheid by 021 204 9805 (tydens kantoorure), stuur ’n e-pos na liquor.enquiries@wcla.gov.za of besoek www.wcla.gov.za indien u enige vrae het.

Gaan die Monitering van Hofsake-program tydens die inperkingsperiode voortgaan?

Die direktoraat het alle besoeke aan polisiestasies en howe op 18 Maart 2020 afgesluit en sal weer voortgaan op instruksie van die Departementshoof van die Departement van Gemeenskapsveiligheid. Dit is om te voorkom dat personeel in gevaar gestel word en om sosiale kontak te verminder.

Gaan die Skoolhulpbron-beamptes (SRO) program tydens die inperkingsperiode voortgesit word?

Die SRO-program gaan egter voortgaan, maar die Departement gaan met die Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse Onderwysdepartement kommunikeer in verband met die ondersteuning wat aan die SRO's verleen word ten opsigte van voorkomingsmaatreëls.